“Ons het in Februarie 2018 tydens ons Dames Bid-Ure op Woensdae oggende, die boekie ‘DAT EK HOM MAG KEN’ – FILIPPENSE/KOLOSSENSE begin deurwerk. Ons vat elke DAG se les as elke WEEK se les. So op Woensdae oggende doen ons dan die ‘merk’ werk en bestudering van die spesifieke gedeelte soos aanbeveel in die boekie.
Ons het dus in Februarie 2018 met Filippense begin.
Die dames was in die begin baie klaerig omdat hulle nou so baie huiswerk het en so baie moet oplees, maar met positiewe aanmoediging het hulle die huiswerk bly doen. Nou is ons al aan die einde van Mei en vandag het die Dames bevestig waarvoor ons gehoop het. Dat hierdie boekie wonderbaarlik goed is om hul bybelkennis te verbeter en te verskerp.
Hulle lees die bybel nou ‘anders’ – so hulle lees nou wat daar ‘staan’ en lees ook nou voor en na die spesifieke gedeelte wat ons behandel, en hulle soek selfs kruisverwysings om ‘n dieper oorsig en insig van die boek/gedeelte te kry.
Ons was vanoggend, na die getuienis of uitlating van die dames, eintlik totaal verslae en opgewonde oor hoe wonderbaarlik God se Woord in mense se harte kruip en dit omdop. Ons wil vir U dankie sê vir U harde en getroue werk om sulke kosbare lesmateriaal op die ‘rak’ te sit, sodat ons dit kan gebruik en daardeur ook die gemeente leer.
Die begeerte om die Woord in diepte te bestudeer is deur hierdie boekie moontlik gemaak.”